How to Deal With 2 Year Old Tantrums For Best Child Development

Wanneer groot emosies ons kinders beetkry is dit vir jou as ouer en jou kind ‘n uitputtende en uitdagende ervaring. Groot emosies is egter totaal normaal vir kinders en daarom moet jy as ouer jouself daarvoor voorberei en weet hoe om dit te hanteer. In my vorige artikel het ek gepoog om die verskil tussen ‘n ‘tantrum’ en ‘n ‘melt-down’ te verduidelik. Meltdowns word op ‘n ander manier as ‘tantrums’ hanteer deur hoofsaaklik kalmeringstegnieke te gebruik. Die beste tegniek om ‘n tantrum te hanteer is om weg te loop (as jou kind natuurlik veilig is) en nie ‘n ‘gehoor’ vir hom of haar te gee nie. Gewoonlik neem die intensiteit van die ‘tantrum’ dan af. Die goue draad wat egter deur altwee hierdie emosionele uitbarstings loop, is hoe jy dit as ouer na die tyd hanteer.

Jou kind se DINK-deel van sy brein moet ontwikkel word sodat logiese denke kan vorm. Dit is nie noodwendig ‘n outomatiese proses nie, maar moet eerder, net soos impulsbeheer, ingeoefen word. Dit is jou werk as ouer om jou kind geduldig te help om selfbeheersing te ontwikkel oor haar emosies. Ons noem dit emosionele regulering en dit vorm deel van emosionele intelligensie. My riglyne hoe jy jou kind kan help om groot emosies beter te kan hanteer is die volgende:

-Praat met jou kind na die ‘tantrum of meltdown’ oor wat nounet gebeur het. Gaan sit naby aan jou kind (tel hom of haar verkieslik op jou skoot) en kyk in jou kind se ogies terwyl jy met hom praat. Die beste ouerskapsvaardigheid is om die regte vrae op die regte tyd te vra! Sodoende begelei jy jou kind tot eie denke en sal jou kind die regte besluite neem selfs al is jy nie naby nie. Jy kan byvoorbeeld vir ‘n kind bo 3 jaar die volgende vrae in ‘n rustige stemtoon vra:

“Vertel vir mamma/ pappa wat nounet gebeur het.” Laat sy in haar eie woorde vertel. Probeer geduldig luister en uitvind wat agter die ‘tantrum’ skuil. Was daar dalk ‘n ‘trigger’ wat aanleiding gegee het daartoe? Kan hierdie ‘trigger’ in die toekoms vermy word?

“Wat het jy gedink voordat jy jou sussie geslaan het?” of “Wat het jy gevoel voordat jy begin skree het?”. Deur hierdie vrae te vra erken jy jou kind se gevoelens en gedagtes en voel jou kind dat jy haar respekteer as mensie.

“Dink jy dat jou plan gewerk het?” As jou kind se plan byvoorbeeld was om sussie te byt toe sy haar speelding gevat het, moet jy haar help besef dat die plan nie gewerk het nie, want sussie het haar teruggebyt of sy het straf gekry.

‘Watter ander plan kan jy volgende keer maak?”. Die plan waartoe ons die kind wil begelei is om te KIES om te STOP, stadig asem te haal en aan ‘n ander oplossing vir die probleem te probeer dink. Oplossings kan byvoorbeeld iets wees soos: gaan praat met ‘n grootmens, maak beurte met speelgoed en wag geduldig tot dit jou beurt is of net iets soos luister die eerste keer as mamma jou vra om die TV af te sit! As jy sien jou kind probeer om een van hierdie planne volgende keer uit te voer voor hy ‘n tantrum gooi, kan jou hom beloon daarvoor.

Op ‘n ligter noot, is die geheim van HUMOR baie keer die sleutel tot ‘n kind se hart. My tweede oudste, wat ‘n spontane ‘palmboompie’ (sanguiniese) persoonlikheid het, het nodig om na ‘n emosionele uitbasting te lag. Ek sal nadat straf toegepas is en ons ernstig gesels het, sy aandag probeer aftrek na iets wat ek weet hom sal laat lag. Dit is belangrik om jou kind te respekteer hierin en nie sy emosies ooit af te maak as iets ‘lagwekkends’ nie. Die idee van humor is om die swaar atmosfeer te lig en saammet jou kind die ligter deel in die situasie raak te sien.

Wanneer jy die langtermyn prentjie in oog hou begin die alledaagse ‘tantrums’ makliker word om te hanteer omdat jy weet dat dit jou ‘n geleentheid bied om in te bou in jou kind se lewe. Probeer ‘n leer-geleentheid in elke ‘tantrum’ sien en vat een ‘battle’ op ‘n slag!