Een vloermoer op ‘n slag is klaar ‘n uitdaging, maar die dubbele vloermoer van ‘n tweeling kan vir enige ouer grys hare gee! My tweeling is nou 5 jaar oud en glo my, as hulle begin tantrums gooi, doen hulle dit behoorlik. As ouer en as terapeut het ek al heelwat strategiee aangeleer oor die tyd, maar kinders kom elke dag met nuwe tegnieke na vore en jy moet hulle deurentyd een voor bly. My twee oudstes, onderskeidelik 8 en 9 jaar oud gooi ook steeds tantrums, maar wanneer hulle dit verloor is dit meestal ‘n ‘meltdown’ en nie n tantrum nie. Hoe onderskei ek tussen die twee?

  • Die maklikste manier om te sien of dit ‘n tantrum is, is om te probeer onderskei wat jou kind daardeur probeer bereik. As jou kind probeer om jou NEE in ‘n JA te verander deur haar woede, is dit ‘n tantrum. As jou kind beheer verloor en daarom in woede reageer, is dit ‘n ‘melt-down’
  • Ouderdom het baie daarmee te doen. Ouer kinders gooi nie oor die algemeen ‘n vloermoer nie. Hulle beskik meestal oor die emosionele intelligensie om deur redenering jou te probeer oortuig om van opinie te verander. Hulle kan hulself ook emosioneel beter reguleer en kan hulself stop voor die woede eskaleer. Op die ouderdom 3 tot 5 jaar oud word die meeste tantrums gegooi. Die rede hiervoor is dat die kind egosentries is en die eie-ek tot volle wasdom ontwikkel op hierdie ouderdom. Die kind besef dat hy nie ‘n ekstensie van sy ouers is nie, en sy eie wil KAN en WIL afdwing op iemand anders.
  • Nog ‘n manier om te onderskei is om te sien hoe die woede weer bedaar, Hierdie ‘metode’ werk ongelukkig nie as jy midde-in die storm is nie, maar dit sal jou help om toekomstige vloermoerstorms te kan hanteer.

n Tantrum moet hanteer word op ‘n heel ander manier as ‘n ‘melt-down’.

Wanneer my tweeling of een van die oudstes ‘n ‘tantrum’ gooi word hulle dadelik aangespreek. Ek glo nie daarin om ‘n tantrum te ignoreer nie, want dan is daar geen negatiewe gevolg vir die tantrum nie en die kind gaan aanhou om dit te doen. Tantrums verloor egter vinnig momentum en krag wanneer daar geen toeskouers is nie en daarom stuur ek my kinders na die ‘stoute-stoeltjie’ toe. Hulle kan eers opstaan van die stoeltjie wanneer hulle ophou skree en huil het. Hierdie tegniek werk gewoonlik, maar indien daar iets ‘ekstra’ nodig is word voorregte weggeneem.

Wanneer die woede in volle swang is kan jy nie met jou kind redeneer nie, want die dink-deel van die brein skakel af en die amygdala (veg/vlug/vries) funksie van die brein neem oor. Hier kom die groot onderskeid tussen ‘n ‘tantrum’ en ‘melt-down’ vir my in, want ‘n ‘tantrum’ gaan eventueel bedaar met duidelike en konsekwente straf deur ouers / onderwysers. As die woede bedaar het, is dit jou kans om rustig en liefdevol met jou kind te gesels sodat die volgende tantrum beter hanteer kan word. In my volgende artikel sal ek riglyne hieroor gee aangesien hierdie ‘n goue-tyd vir leer is.

Aan die ander kant moet ‘n ‘melt-down’ nie gestraf word nie omdat jou kind geen beheer het daaroor nie. Hy kies nie om die ‘melt-down’ te kry nie, en dit kan dus nie gekoppel word aan ongehoorsaamheid nie. ‘n “Melt-down’ word meestal veroorsaak deur ‘n oorstimulasie op sensoriese gebied. My oudste seun wat op die outisme spektrum is kry dikwels ‘melt-downs’. Wanneer hy oorgestimuleer word sal hy soms in woede reageer. Om die woede van ‘n ‘melt-down’ te laat bedaar moet kalmerings-tegnieke toegepas word soos die verwydering van die kind uit die situasie, die eet van ‘n appel, yskoue water of die toepassing van diepdrukking. Om ‘n appel te eet sal niks doen vir ‘n kind wat ‘n tantrum het nie, maar vir een wat ‘n melt-down het verrig dit wondere.

Dit bly ‘n uitdaging om tussen tantrums en melt-downs te onderskei, maar soos wat jy deur die storms worstel word dit makliker en raak jy ‘slimmer’ sodat jy die volgende storm makliker voluit in die gesig kan kyk!