Letting Children Express Anger | Family Talk

Daar is seker nie ‘n ouer in hierdie wêreld wat nie ge-‘oee’ en ‘aah’ het toe hul kind vir die eerste keer mamma of pappa gesê het nie. Op ‘n stadium, wanneer jy die woord 500 keer ‘n dag hoor, wens meeste ouers egter dat jou kind nooit die woord aangeleer het nie! Kinders soek, nee vereis, ons aandag soveel keer op ‘n dag dat dit werklik die geduldigste ouer tot raserny kan dryf. Die gevolg hiervan is dat ons nie meer stop en die goeie tye waardeer nie, maar net die swart kol op die wit bladsy begin sien.

Een van die euwels van ons hedendaagse samelewing is dat ouers voel hulle moet onmiddelik aan hul kind aandag gee, anders is hulle nie ‘goeie ouers’ nie. Kinders leer dan nooit behoefte uitstelling aan nie, en sukkel later met impulsbeheer. Die geheim is om te STOP en te dink of jy werklik onmiddelik moet reageer (as jou kind se hand op die stoofplaat is moet jy natuurlik spring!), en of jy eers moet wag voor jy reageer.

Die inperkingtyd het sommige kinders tot groter afhanklikheid gedryf, en hulle nog meer tyd en aandag van hul ouers laat vereis. Vir meeste ouers wat van die huis af werk, veroorsaak dit frustrasie maar ook skuldgevoelens omdat hulle nie altyd aan hulle kinders die aandag kan verleen wat hulle vereis nie. Die gevoel het ontstaan dat kinders heeltyd besig gehou moet word, hetsy met iets wat jy vir hulle gee om te doen, of met tegnologie. Heelwat ouers wat in die verlede goeie reëls in plek gehad het rondom tegnologie, het verlede jaar meer skermtyd begin toelaat… ek inkluis!

Alhoewel hierdie nie nog ‘n artikel is om jou te vermaan teen te veel skermtyd nie, wil ek jou tog uitdaag om nou te begin om weer die leisels stywer in te trek. Ek het tot my skande besef dat my vier seuns verslaaf geraak het aan ‘n spesifieke rekenaarspeletjie toe hulle vir die eerste week van die vakansie, waar geen tegnologie toegelaat is nie, oor niks anders as hierdie speletjie kon praat nie. Dit het hulle ‘n goeie twee weke geneem om weer kreatief te begin raak deur Lego te bou, met hul karretjies te speel en sport te doen.

Om behoefte-uitstelling en onafhanklikheid by jou kinders te vestig, stel ek die volgende voor:

Moenie voel jy moet jou kind altyd besig hou met iets nie.

Dit is soms goed vir kinders om verveeld te wees want dan begin hulle kreatief raak. Skep tye in die dag waar jou kinders eintlik niks het om te doen nie. Begin met 20 minute. Kyk hoe hulle dit hanteer (dis gaan aan die begin moeilik vir hulle wees), maar druk deur want jy gaan die vrugte pluk.

Jy hoef nie altyd te voel jy moet jou kind iets leer nie.

Tydens ouerleidingsessies by my praktyk het ek al soveel kere besef dat baie ouers sukkel daarmee om net te speel met hul kind. Ouers voel altyd hulle moet inligting oordra of iets leer vir hul kind tydens spel. Die beste manier om dit hok te slaan is om vir jou kind te vra om die leiding in die spel te neem. Sê dus iets soos: “mamma het 20 minute tyd om met jou te speel (enigiets behalwe tegnologie). Ek gaan my foon wegsit en net met jou speel. Jy kan die baas wees terwyl ons speel”. Wanneer jy hierdie opdrag gee, moet jy egter bereid wees om soos ‘Superman’ deur die huis te hardloop as dít is wat jou kind wil doen!

Hou op skuldig voel omdat jy nie altyd op jou kinders se versoeke reageer nie.  

Jy hoef nie altyd onmiddelik te reageer nie. Kinders moet leer hoe om te wag. Wanneer jy altyd spring as hulle iets vra, kry hulle die boodskap dat die hele huishouding om hulle draai. Moet dus nie verbaas wees as dit dan werklik so is nie!

Ouerskap is gevul met mynvelde, maar gelukkig ook met die pragtigste blommevelde. Pak elke dag met nuwe ywer aan, en onthou om te STOP om die blomme langs die pad te ruik!